Die Krag van Beweging: Hoekom Oefening, Buitespeel en Sonlig so Belangrik is vir Kinders se Ontwikkeling
- Marene Jooste
- Feb 19
- 7 min read
Updated: Feb 23
For the English version, click here.

As ouers en onderwysers speel julle een van die belangrikste rolle in ’n kind se ontwikkeling. Elke keer wanneer jy vir ’n kind die geleentheid gee om te rol, klim, hardloop, balanseer of buite te speel, doen jy baie meer as om hulle net te help energie verbrand. Jy bou hulle brein, vorm hulle emosionele wêreld en versterk hul toekomstige leer. Kinders is gemaak om te beweeg. Beweging is nie ’n bonusaktiwiteit nie. Dit is deel van hoe hulle groei.
Tog maak die moderne wêreld natuurlike beweging al hoe moeiliker. Skerms is altyd naby. Gesinne het besige skedules. Skole kry toenemend druk om meer akademie in minder tyd te pas. Speelareas en erwe raak kleiner. Wanneer beweging beperk word, mis kinders noodsaaklike ontwikkelingsgeleenthede wat hul liggame en breine broodnodig het.
Hierdie blog gee vir jou praktiese insig oor hoekom beweging saakmaak, wat gebeur wanneer dit ontbreek en hoe eenvoudige daaglikse gewoontes leer, gedrag, slaap en emosionele balans kan transformeer.
Hoe Beweging Jou Kind se Brein Bou
Vanaf die oomblik wat ’n baba begin rol, kruip of optrek om te staan, begin die brein homself bedraad deur aksie. Hierdie bewegings is nie net mylpale wat jy afmerk nie. Dit is kragtige boublokke vir akademiese en sportsukses.
Beweging versterk spiere en bene, verbeter balans en koördinasie en ondersteun ’n gesonde hart. Maar sommige van die grootste voordele gebeur binne die brein. In Spark: The Revolutionary New Science of Exercise and the Brain beskryf John Ratey hoe die Franse neurowetenskaplike Jean Pierre Changeux gevind het dat beweging selfs voor geboorte die breinstruktuur beïnvloed. Toe kuiken embrio’s verhinder is om te beweeg, het hul breine abnormaal ontwikkel. Dit wys hoe afhanklik die brein van fisieke aktiwiteit is.
Changeux het ook die rol van ’n proteïen genaamd BDNF ontdek. Hierdie proteïen help senuweeselle om sterk takke te vorm wat leer en geheue ondersteun. Ratey verwys na BDNF as die brein se "Miracle Gro" of kunsmis. Kinders produseer meer van hierdie kragtige proteïen wanneer hulle beweeg. Wanneer kinders hardloop, vrolik speel, hop, klim of balanseer, is hul brein letterlik besig om te groei.
Beweging verbeter ook aandag, emosionele regulering, slaap en algemene gemoedstoestand. Dit verlaag stres en verhoog natuurlike voel-goed-hormone. Wanneer jy jou kind aanmoedig om te beweeg, voed jy beide hul liggaam en hul brein.
Wat Gebeur Wanneer Kinders Nie Genoeg Beweeg Nie
As volwassene in jou kind se wêreld kan jy gou opmerk wanneer hulle nie genoeg fisieke aktiwiteit kry nie. Jy sien dit moontlik in hul energievlakke, hul bui of selfs in hul houding.
Fisieke Ontwikkeling
Onaktiewe kinders sukkel makliker met hul postuur, uithouvermoë en spiertonus. Hulle kan aktiewe spel vermy, vinnig moeg word of agter raak in grootmotoriese vaardighede. Wanneer kinders vir lang periodes onaktief is, verhoog dit hul risiko vir vetsug en chroniese gesondheidstoestande.
Kognitiewe Ontwikkeling
Beweging gee die brein die stimulasie wat dit nodig het om wakker en gefokus te bly. Navorsing wat gepubliseer is, wys dat aktiewe kinders oor die algemeen beter akademies presteer as sittende maats. Sonder genoeg beweging kan jou kind sukkel met konsentrasie, emosionele regulering en geheue.
Sosiale Ontwikkeling
Soveel van kinderjare se vriendskappe word deur beweging gebou. Speletjies, klim, jaag, avonture op die speelgrond en sport help kinders om samewerking, empatie en selfvertroue te oefen. ’n Kind wat fisieke spel vermy, mis dikwels hierdie sosiale geleenthede.
Emosionele Ontwikkeling
Beweging sorg vir natuurlike stresontlading. Sonder dit kan kinders geïrriteerd, rusteloos, angstig of oorweldig voorkom. Aktiewe spel help om emosionele uitbarstings te reguleer en emosionele veerkragtigheid te ondersteun.
Vandag se onaktiewe kinders raak more se onaktiewe volwassenes. Vroeë gewoontes maak saak.

Hoekom Kernspierkrag en Postuur Meer Belangrik Is As Wat Jy Dink
As ouer of onderwyser het jy waarskynlik al opgelet wanneer ’n kind sukkel om regop te sit, maklik op die vloer gaan lê of vinnig moeg word tydens sit-aktiwiteite. Kernspierkrag is noodsaaklik vir goeie postuur, asemhaling en emosionele regulering. Kinders met swak kernspiere haal oppervlakkig asem, wat weer suurstofvlakke en 'n kind se selfreguleringsvermoë beïnvloed.
Postuur speel ook ’n verrassend groot rol in spraak. Die hyoïedbeen in die nek help om die tong, kakebeen en lugweg te ondersteun. Wanneer ’n kind vooroor sit of sy kop vorentoe druk, verskuif hierdie been. Dit kan asemhalingstempo, tongbeweging en spraak artikulasie beïnvloed.
Wanneer jy goeie postuur tydens skryf, mattyd, stap en aktiewe spel aanmoedig, ondersteun jy duideliker spraak, beter asemhaling en 'n kind se algemene leer-gereedheid.
Beweging, BDNF en Leer
Beweging verhoog BDNF, wat help om sterker breinverbindings te vorm. Die hippokampus (breindeel wat verantwoordelik is vir leer en geheue) floreer wanneer ’n kind aktief is. Wanneer jou kind spring, draai, onder ’n tafel deurkruip of op ’n balanseerbalk loop, verbeter hul uitvoerende funksies. Dit sluit fokus, werkgeheue en organisasievermoë in. Beweging is nie ’n breek van leer nie. Dit ís leer.

Skermtyd teenoor Groentyd
Oormatige skermtyd is een van die grootste struikelblokke vir gesonde beweging. Kinders wat meer as twee uur per dag op skerms spandeer, het ’n groter risiko vir swak slaap, emosionele uitdagings en aandagprobleme.
Wanneer jy skermtyd vervang met buitespel, verbeter kinders se fokus, bui en fisieke gesondheid. Onbeplande spel wat klim, hardloop en ontdekking insluit, bied ook emosionele en verstandelike voordele wat skerms eenvoudig nie kan naboots nie.
Stel konsekwente grense: geen skerms voor skool of 2 ure voor slaaptyd nie. Maak etes skermvry en prioritiseer gereelde buitespel. Die doel is om passiewe tyd met aktiewe, stimulerende ervarings te vervang.
Hoekom Buitespeel So Belangrik Is
Hoewel binnenshuise spel ’n plek het, kan niks die voordele van speel wat buite plaasvind, vervang nie. Die natuur bied ’n multisensoriese omgewing wat die brein op unieke maniere stimuleer. Vars lug, ongelyke terreine, natuurlike geluide en vryheid om te beweeg dra alles by tot ryk ontwikkelingsgeleenthede.
Sonlig
Blootstelling aan natuurlike sonlig is noodsaaklik vir die produksie van vitamien D, wat sterk bene, immuunfunksie en 'n mens se gemoedstoestand help reguleer. Lae vitamien D vlakke word gekoppel aan moegheid en geïrriteerdheid by kinders. Sonlig verhoog ook serotonien, die brein se goedvoel-hormone, wat gevoelens van geluk en welstand bevorder.
Sonlig help verder om jou kind se liggaamsklok te reguleer. Helder sonlig in die oggend verlaag melatonienvlakke sodat die liggaam wakker en gereed voel vir die dag, en dit help kinders weer later om makliker in die aand te slaap.
Sensoriese Stimulering
Buitespel aktiveer al die sintuie. Die gevoel van gras, die klank van voëls en die gevoel van oop ruimtes help kinders om sensoriese inligting te verwerk. Dit ondersteun leer, emosionele balans en sosiale vaardighede.
Stresvermindering
Navorsing toon dat tyd in die natuur stresvlakke verlaag en emosionele welstand verbeter. Kinders wat gereeld buite is, is rustiger, meer gefokus en beter toegerus om frustrasie te hanteer.

Hoeveel Beweging Kinders Nodig Het
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het kinders daagliks 'n verskeidenheid van fisieke aktiwiteit nodig.
Babas: verskeie geleenthede vir magietyd - soveel as wat moontlik is. Probeer die gebruik van baba toestelle soos stoeltjies beperk en gee jou baba soveel as moontlik geleentheid om vrylik op 'n lekker stewige mat te speel.
Peuters: minstens drie ure se beweging regdeur die dag.
Voorskoolse kinders: drie ure per dag, waarvan minstens een uur energieke spel moet wees.
Skoolgaande kinders: minstens 60 minute van matig tot energieke beweging per dag, plus spierversterkende aktiwiteite drie keer per week.
Wanneer beweging natuurlik in spel (en 'n skool se weeklikse rooster) ingebou word, is hierdie teikens maklik haalbaar.
Verdere Voorstelle om Beweging Aan te Moedig
Jy het nie duur toerusting nodig nie. Alledaagse aktiwiteite werk uitstekend.
Babas geniet magie tyd en om rond te rol op ’n kombers. Peuters hou van hindernisbane, balspeletjies en dans. Voorskoolse kinders floreer deur te klim, verbeel-jou-speletjies en wegkruipertjie in die natuur, te speel. Skoolgaande kinders geniet fietsry, draf, swem of om met balle te speel (veral saam met hulle maats).
Maak beweging deel van jou dag. Loop kort afstande, dans saam in die kombuis, gaan stap met die hond of gaan gym saam met jou kind. Kinders doen wat jy doen. Wanneer jy saam met hulle aktief is, bou julle lewenslange gesonde gewoontes.
Skole speel ook ’n belangrike rol. Babaklasse het veilige matte, speelgoed wat reik en kruip aanmoedig, en lae meubels nodig vir optrek. Voorskoolse kinders benodig daaglikse buitespel en klimgeleenthede. Ouer kinders reageer goed op beide gestruktureerde LO-klasse en vryspel. Kort bewegingsbreuke deur die dag verbeter ook fokus en leer.
Wanneer Professionele Hulp Nodig Is
Hou gerus hierdie tekens dop:
Kind wat aktiewe spel vermy
Sukkel met hardloop, spring of koördinasie
Swak postuur, lae spiertonus of vinnige moegword
Voorkeur vir skerms bo beweging
Rusteloosheid, swak fokus of irritasie
As jy hierdie tekens raaksien, kan ’n Kinderkinetikus of ’n aanlyn konsultasie met ons praktyk groot ondersteuning bied. Onthou, vroeë hulp bou 'n kind se selfvertroue en gesonde gewoontes.
Soms vermy kinders beweging weens swak koördinasie, lae selfvertroue of onderliggende mediese of sensoriese uitdagings. Dit is dan nuttig om met die volgende professionele persone te konsulteer.
Pediaters skakel mediese oorsake uit
Arbeidsterapeute werk onder andere aan die sensoriese onderbou van motoriese probleme
Fisioterapeute of Kinderkinetikuste werk aan postuur, kernkrag en motoriese vaardighede
Sielkundiges werk aan 'n kind se selfbeeld
Ten Slotte
Oefening, buitespel, sonlig en vars lug is nie opsionele ekstras nie. Dit is noodsaaklike boustene van gesonde ontwikkeling. Wanneer jy besef hoe BDNF die brein laat groei, hoe kernspierkrag asemhaling en spraak ondersteun, en hoe beweging leer vergemaklik, word een ding duidelik. Beweging is die fondasie vir lewenslange gesondheid en leer.
Die formule is eenvoudig. Meer speel. Meer sonlig. Meer vars lug. Wanneer jy dit vir jou eie kind (of die kinders in jou klas) prioritiseer, help jy hulle nie net om te groei nie, maar om te floreer.
En as jou skool reeds die EduMove-kurrikulum gebruik, het jy ’n ongelooflike voordeel. EduMove gee kinders die bewegingsgeleenthede wat hulle nodig het om slimmer te beweeg en uiteindelik indirek slimmer te word. Dit is ’n kragtige program en ’n absolute bonus vir elke kind in jou skool.
Tot ons weer gesels, gelukkige, geseënde bewegingsoomblikke saam met EduMove en jou kind!
Verwysings
American Academy of Pediatrics (AAP). Active Healthy Living: Prevention of Childhood Obesity Through Increased Physical Activity. Pediatrics. 2006;117(5):1834-1842. https://publications.aap.org/pediatrics/article/117/5/1834/70080/Active-Healthy-Living-Prevention-of-Childhood
Systematic review of physical activity and cognitive development in early childhood (Carson V., Hunter S., Kuzik N., et al., 2016) https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/26197943/
What Is the Relationship between Outdoor Time and Physical Activity, Sedentary Behaviour, and Physical Fitness in Children? A Systematic Review (Gray C., Gibbons R., Larouche R., et al., 2015) https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/26062039/
Systematic review of the health benefits of physical activity and fitness in school‑aged children and youth (Janssen I., LeBlanc A.G., 2010) https://www.ncbi.nlm.nih.gov/books/NBK79019/
Systematic review of the relationships between objectively measured physical activity and health indicators in school‑aged children and youth (Poitras V.J., Gray C.E., Borghese M.M., Carson V., Chaput J.P., Janssen I., et al., 2016) https://cdnsciencepub.com/doi/10.1139/apnm-2015-0663


